Wednesday, April 4, 2007

Biedjie agtergrond op die Eugene Marais gedig.

Die gedig “wie is jy, Eugéne Marias” is gepubliseer in die bundel ‘Honderd Jaar Later’ (saamgestel deur Johann Lodewyk Marias, uitgegee deur Praag). Ek het nooit ‘n kopie van die bundel ontvang soos hul belowe het nie. My email navrae is nooit beantwoord nie. What’s up ouens? Ek het eers uitgevind dat die gedig sy pad in die bundel gevind het deur ‘n SMS van Gert een Sondag oggend. Hy sê, ‘Ek sien jy’s in die Rapport.’ Ek dink by myself, ‘O, God! Wat het ek nou weer aangevang?’. Ek gooi mos elke nou en dan so ‘n Performance Art stuk – hull’s gewoonlik low key gebeure, maar hul ontstel gereëld ‘n spul mense. (Op ‘n keer het ek bladsy twee in die Rapport gemaak, omdat ek kaal in die Johannesburg se Kuns Gallery geposeer het, en toe’t die sekuriteits wagte my kom dreig…elk geval. Ek gooi vir my klere aan en sluip nuuskierig af, weg van die 5de verdieping flat van my girlfriend daar in Kloof straat, en gaan koop die Rapport by die kafee op die hoek. Daar vind ek toe ‘n review van hierdie ‘Honderd Jaar Later’ met ‘n aanhaling uit my gedig (nogals onder Joan Hambidge se aangehaalde gedig, wat snaaks is want ek’t haar al baie keer lelik vies gemaak, en ek kan haar mond op ‘n aaklige plooi sien trek as sy my naam daar saam het hare gewaar).
Dis ‘n snaakse publiserings ondervinding. Anders as wat ek so vêr ondervind het. Publiserings ondervindings tot nou toe was almal baie meer warm en persoonlike ondervindings. Hierdie een was baie koud en onpersoonlik. Daar was ‘n Email in ‘n baie hoogdrawende Afrikaans wat my vra om gedigte te stuur. Dan nog ‘n email wat vra of hul tog nie ‘n ander naam as ‘Sjaka S. Septembir’ kan gebruik nie…en dit was dit. Het nooit weer van hul gehoor nie. Die resensie in Rapport is gedoen deur ‘n ene Andries Visagie. Hy’s ook net ‘n gesiglose naam vir my. Of dalk is ek verkeerd Andries, dalk het ons al ontmoet? Nie dat dit regtig saak maak nie, Dis maar net hoe dit was.

No comments: