Sunday, April 29, 2007

ek brand ‘n kers vir Sander se ma

ek brand vir jou ‘n kers, vrou in die vreemde
vir daar waar jy gisteroggend in die hospitaal was
besig om te kantel tussen hier en die onbekende
hul’t nog ‘n sy-wurm naelstring na jou kant toe gegooi
elke partikel van die weefsel gevul met hoop
en verlange vir jou terug keer
maar ons kon net aan dié kant voel hoe jou hande gly
onder jou eie gewig. ons vas klou aan jou het te seer geword
toe knip hul die laaste spook string met die afsit van die ‘life support’
eergister was jy nog hier, vandag is jy weg en trane stuk
soos oorgroeide bosse van hartseer jou familie se harte toe
…ek brand ook die kers vir hulle, vir die donker in hul harte

ek is nog hier, en ek brand hierdie wit kers vir jou
in ‘n kamer in Woodstock, terwyl motor bande verby my kamer venster
steeds die swart teer riviere van Roodebloem toets en
die wind roer die blare van die suurlemoen en frangipani boom
voor my venster
ek vat ‘n sluk soet tee en kyk weer na die kers…

vrou in die vreemde, ek brand die kers spesiaal vir jou
ek’t jou prag vlugtig ervaar ‘n jaar terug by my suster se trou
en jou prent is nog in my kop terwyl hierdie kers flikker.
jou tongspier, lede mate en alles is gestol buite tyd
terwyl die rooi sekonde wyser nog ‘n sirkel teken oor die muur
en die blou lig bo hierdie dag skree vir my ‘n eggo van jou
oor al die krioelende jagende lewendes
en dit weerklank in ‘n pragtige stilte
wat soos ‘n arend draai om die son

vrou in die vreemde, ons brand almal saam kerse vir jou
totsiens.

© 2007, Sjaka S. Septembir

No comments: